«

»

Jan 20

Ons lewe as verlostes

bybelLuk 12:35-48

Waarvan lewe jy? Verse 22-34 praat oor hierdie vraag. As ons dit moet beantwoord sal ons sekerlik sê ons lewe van ons inkomste – sy dit nou `n salaris, pensioen, rente of wat ookal mag wees. As ons egter na ons bekommerde gesigte kyk, lyk dit nie of hierdie inkomste vir ons veel sekuriteit bied nie. Ons kwel ons gedurig of die rentekoerse op of af gaan, ons is bekommerd dat die waarde van ons eiendom sodanig gaan daal dat daar vir ons niks gaan oorbly nie. Ons is daarom erg gepla oor die ekonomiese beleid en beeld van die land, en so kan ons ons bekommernisse oor die standhoudendheid van ons inkomste sekerlik vermenigvuldig.

Ons gedeelte vra egter `n veel belangriker vraag – naamlik waarvoor lewe jy? As u vanoggend eerlik op hierdie vraag moet antwoord, sal ons sekerlik veelal uiteenlopende standpunte hoor. Ons sal ook die uiteenlopenheid van ons antwoorde kan verklaar – ons bevind ons immers in die sogenaamde postmoderne tyd, maw `n tyd wat gekenmerk word aan sy klem op individualisme. Ons is geregtig, sê hierdie tyd, op ons eie mening en siening, op ons eie drome en ideale. Ons kan maak soos dit vir ons goed lyk. Daarom het ons die keuse om te lewe vir dit wat vir ons wonderlik is. Ons het die reg om ons geld, ons talente, ons goed aan te wend op `n wyse wat vir ons aanvaarbaar is. Ons hoef aan niemand verantwoording te doen nie.

Die twee vrae wat in hierdie gedeelte gevra word, waarvan en waarvoor ons lewe, is eintlik maar dieselfde vraag – `n mens hoor dit juis in die laaste vers van die voorafgaande perikoop wanneer Jesus in vers 34 sê: “Waar julle skat is (waarvan jy lewe), daar sal julle hart (waarvoor jy lewe) ook wees.”

As die gedeelte dan vir ons vra waar ons hart is, waarvoor ons lewe, is daar veral vir ons as gelowiges nie `n uitkomkans nie. Want dit is nie `n vraag of ons die kerk van Christus is nie, (dit is immers `n gegewe) maar wel op hoe `n wyse ons die kerk van Christus is.

Dit gaan oor die wyse waarop ons ons verantwoordelikheid as uitbouers en bewakers van God se koninkryk nakom.

Dit gaan nie oor die vraag of ons al tot bekering gekom het nie (ook dit is `n gegewe) maar wel oor die vraag hoe jou lewe as bekeerling lyk.

Dit gaan nie oor die vraag of jy die genade al aanvaar het nie, maar of jy jou verantwoordelikheid wat die genade bring, reg hanteer. Die gedeelte is immers duidelik dat ons aangestel is met `n opdrag. Dit gaan dus oor die vraag of ons ons opdrag uitvoer en op hoe `n wyse ons dit doen.

Die tyd waarin ons lewe, en die gesindheid van hierdie tyd smeer aan ons af – ook in hierdie opsig. Ons het in sovele opsigte voorbeelde van laat maar gaan, gee nie meer om nie. Deesdae is dit juis een van ons kinders se mees geliefde uitdrukkings as jy hulle om hul verantwoordelikhede vra – I don’t care – ek gee nie om nie. Wat maak dit saak? So what!! As `n mens dit in godsdienstige taal moet vertaal sal jy sê: “Ag, ek is nou maar `n sondaar …” Dit is tipies van ons samelewing – ons lewe sonder om ons te steur aan wat reg en verkeerd is – die feit dat mense so maklik oor stopstrate ry en gewone verkeersreëls verontagsaam, so maklik hulle wend tot padwoede, so maklik deur korrupsie mekaar te na kom, so maklik laat kom by die werk, is alles simptome van hierdie houding.

En onwillekeurig dra ons hierdie gesindheid ook in ons roeping as gelowiges in. Ons gee nie meer om vir die koninkryk van die Here, soos dit gestalte vind in die kerk nie, God se saak maak nie veel vir ons saak nie. So maklik soos wat ons die omgewing besoedel, so maklik skryf ons ons verantwoordelikheid teenoor die Here af. Solank jy net nie gevang of uitgevang word nie, is alles in orde.

Maar hierdie gedeelte het `n angswekkende waarskuwing – voor die regering, die verkeersmense, die natuurbewaarders kan ons nog maklik daarmee wegkom, maar voor God sal daar `n dag kom dat die eienaar, die Baas gaan terugkom en vrae vra.

`n Mens maak hierdie gevolgtrekking dat die saak van God al hoe minder vir ons saak maak, op grond van dit wat om ons duidelik word – die kerke wat al minder bygewoon word, die dankoffers wat al kleiner word, mense wat al meer gesmeek moet word om tog iewers betrokke te raak, ens.

Om dit te verander is nogal `n moeilike saak. Min van ons het die antwoord. En daaroor kan ons lank debatteer, maar hierdie gedeelte konfronteer ons egter op `n ander vlak – nl met die vraag hoe lyk dit met jou eie lewe, jou eie verhouding met die Here, jou eie verantwoordelikheid teenoor Hom. Wat maak ek met sy taak wat Hy vir my gegee het om Christen vir Hom te wees? Kom ons stel dit heel prakties – stry ons werklik teen ons ou geneigdheid om te skinder, om vir jouself te lewe, teen oneerlikheid, teen afgunstigheid en jaloesie? Lewe ons regtig vanuit die Bybelse boodskap wat lui dat die oue (die ou, sondige ek) verby is, en dat die nuwe gekom het (2 Kor 5:17)?

Hoe kry `n mens hierop `n eerlike antwoord? Hoe meet jy jou toewyding? Petrus se vraag gee dalk vir ons die oplossing. Wanneer Petrus in vers 40 vra: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons bedoel of vir almal?” kry `n mens in Jesus se verdere uitbouing van die gelykenis riglyne waaraan jy jou eie toewyding aan die Here kan meet.

Jesus gee hiermee twee toetsstene waaraan ons ons christelike lewe kan meet. Ek sal dit graag in die vorm van vrae aan u wil voorhou. Die eerste vraag waarop Jesus `n antwoord van ons verwag is: leef jy asof die Here elke oomblik teenwoordig is? Leef ons teenoor mekaar met `n ingesteldheid dat die Here inderdaad die onsigbare Gas by ons is? Hoe sal ons gesprekke met en van mense lyk as Hy hier is? Hoe sal ons optree teenoor ons lewensmaat as Jesus teenwoordig was? Hoe sou ons ons werk doen, hoe sou ons ons geld spandeer, hoe sou ons liefhê, hoe sou ons vergewe as Jesus in alles langs ons sy gestaan het?

In `n klein boekie vertel Brother Lawrence wat by `n klooster die skoonmaakwerk gedoen het, wat die geheim van sy toegewyde lewe was. Só voorbeeldig het hy sy eenvoudige werkies gedoen dat hy meer bekend geword het as die monikke en priesters in die klooster. Brother Lawrence sê dat hy doodgewoon alles wat hy doen so doen asof die Here hier by hom is en hy dit vir Hom doen. Of hy nou vloere was en of hy kos voorberei – hy doen dit saam met en vir die Here.

Sal ons nie maar ook hierdie ingesteldheid inoefen in ons lewe nie? Kom ons vergeet van die wederkoms en laat ons lewe asof die Here reeds gekom het – reeds hier is, want dit is immers inderdaad die waarheid.

Die tweede riglyn waaraan ons ons toewyding aan die Here meet lê ook in Jesus se antwoord opgesluit – Leef jy net vir jou eie posisie of leef jy vir ander mense? Petrus vra blykbaar die vraag om te hoor of hulle as dissipels nie op `n manier benadeel gaan word as hierdie saak op almal betrekking het nie.

Hoe belangrik is die welsyn en die geestelike heil van ander mense vir u? Bid u vir ander, vir u werksmense, vir die straatkinders, vir u buurman en –vrou? Dien u vir ander met u gawes? Treur u oor die seer en ellende van ander mense?

Vir ons is baie gegee – ons het immers die verlossing deur Jesus Christus gekry – Kom ons hou op om voorskriftelik te wees en liewers te soek waar ons die las van ander makliker, ligter kan maak.

Please follow and like us:

1 comment

  1. Elize

    Dankie Ds. Ons ouer lidmate onthou en hoor mos nie altyd so fyn nie. Goeie boodskap, en kan ek dit enige tyd weer lees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>